Violet het haar regsloopbaan op ‘n hoë noot begin deur haar B Proc-graad cum laude in Privaatreg aan die Universiteit van die Noorde te verwerf. Haar LL B behaal sy aan die Universiteit van die Vrystaat, waarna sy aangestel word as navorser by die Appélhof in Bloemfontein.
Hier het sy só presteer dat sy ‘n internskap by die Grondwethof, onder die mentorskap van regter Mokgoro aangebied is. Dit was hiér dat haar professionele belangstelling in Arbeids- en Grondwetlike Reg ontwikkel het.
Haar professionele loopbaan het sy begin as kandidaatprokureur by Naudé’s Prokureurs in Bloemfontein. Hier kwalifiseer sy vir die Hooggeregshof voor sy aansluit by die firma se Arbeids- en Nywerheidsverhoudingsafdeling.
Sy sit haar studies voort onder prof. Lood Pretorius, hoof van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit van die Vrystaat, en verwerf so ‘n LL M in Arbeids- en Grondwetlike Reg.
Spoedig vestig sy haarself as ‘n spesialis in arbeidsreg, wat konsentreer op die verteenwoordiging van kliënte by die CCMA en die Arbeidshof, en ook in die arbeids- , nywerheids- en menslike hulpbron-omgewing.
Violet se reputasie het haar vooruitgeloop, en in 1999 word sy aangestel as deeltydse Kommissaris by die Kommissie vir Konsiliasie, Bemiddeling en Arbitrasie (Vrystaat) waar sy uiters waardevolle werk verrig.
In 2000 word sy aangestel as direkteur in die Arbeids- en Nywerheidsverhoudings-afdeling by Naudé’s. Haar kundigheid brei intussen uit na advies oor afleggings en herstrukturering, dissiplinêre en forensiese ondersoeke by groot organisasies, tersiêre opvoedingsinrigtings, munisipaliteite asook plaaslike en provinsiale regerings.
In 2002 was sy aan die voorpunt van ‘n beweging weg van Naudé’s en die daaropvolgende stigting van ‘n nuwe SEB-regsfirma – Phatshoane Henney Ingelyf – die grondlêerlid van die Phatshoane Henney Groep van Assosiaatfirmas – ‘n nasionale assosiasie van firmas dwarsoor Suid-Afrika. Tans is Violet die Direkteur van die Arbeids- en Grondwetlike afdeling van Phatshoane Henney Ingelyf met 'n besonder wye belangstellings- en bedryfsveld. |