Douglas was die eerste "prokureur van kleur" wat in die Vrystaat toegelaat is, en hy is tans 'n praktiserende regsman met meer as 15 jaar se ondervinding in verskeie vertakkings van die reg.
Alhoewel hy begin het as litigeerder in die Magistraatshof, het hy spoedig betrokke geraak by eiendoms- en grondreg, waar hy 'n spesialisraadgewer was in 'n groot verskeidenheid eiendoms- en verwante dissiplines en sodoende ver buite die tradisionele grense van aktebesorging begin beweeg het deur betrokke te raak by grondontwikkeling, hersonering, stads- en dorpsbeplanning, konsolidasie en onderverdeling, ens. Hy het sy spesialisasie verder uitgebrei en as ‘n deeltydse kommissaris by die Kommissie vir Konsiliasie, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) van die Vrystaat, arbeidsdienste aan kliënte gelewer.
In 2002 was Douglas betrokke by die wegbreek van Naudé’s en word hy ‘n stigterslid en naamgenoot van ‘n nuwe SEB-regsfirma – Phatshoane Henney Ingelyf – waar hy tans die direkteur van die Eiendomsreg-afdeling is. Hy was ook nou betrokke by die uitbreiding van Phatshoane Henney Ingelyf en die vestiging van die Phatshoane Henney Groep van Assosiaatfirmas – tans ‘n nasionale assosiasie van firmas in vyf provinsies dwarsoor Suid-Afrika.
Douglas is die voorkeur-diensverskaffer oor eiendomsreg en padongelukfondseise aan groot organisasies soos ESKOM, Transnet, ABSA, Glenrand en ander. Hy gee ook deeltyds klas aan kandidaatprokureurs oor padongelukfondseise by die Vrystaatse Skool vir Regspraktyk en die Regsvereniging van Suid-Afrika – ter voorbereiding vir hulle prokureurstoelatingseksamen.
Douglas het uitgebreide ondervinding as regsadviseur vir ‘n aantal regeringsprojekte – provinsiaal, sowel as nasionaaal – insluitend meer as 15 Publieke/Privaatvennootskap infrastruktuur-ontwikkelingsprojekte in ‘n verskeidenheid sektore en provinsies.
Hy was ook deel van die regsadviesspan verantwoordelik vir 3 afgehandelde PPV-kontrakte in SA, insluitend die eerste twee afgehandelde hospitaal mede-vestigings PPV’s.
Hy spesialiseer in grond, terrein en titelakte-ondersoeke, regs- en "procurement"-hersienings, bemagtigingsadvies en ander raadgewende dienste.
In 2001 is Douglas vir ‘n 4-jaarperiode aangestel op die Bloemfonteinse Waterraad, waar hy ook opgetree het as voorsitter van die Waterraad se raad van trustees en ook van die Raad se Waterverkrygingskomitee.
Hy is ook lid van die Vrystaatse Regsvereniging se eksaminasiepaneel vir Notariële Praktyk en lid van die Meester van die Hooggeregshof se paneel Likwidateurs/Trustees wat spesialiseer in die bestuur van insolvente boedels en regsbestuur van maatskappye in likwidasie; ondervragings in terme van die Insolvensiewet, Maatskappyewet en Beslote Korporasieswet, en administrasie van boedels in die landbousektor. |